Rugby

Rugby is ‘n wintersport wat in die 1ste kwartaal, na atletiek en in die 2de kwartaal beoefen word. Laerskool Monumentpark het 9 tot 10 spanne elke jaar en alle ouderdomsgroepe beskik oor A- en B-spanne. Die fokus van die afrigters is op vaardigheidsontwikkeling en die genot van die spel.

Jaarliks toer die O/11A en O/13A spanne gedurende die Maart / April vakansie.

Laerskool Monumentpark neem deel in die Jakarandastreek van die BBLRV (Blou Bul Laerskole Rugby Vereniging) se liga en neem deel teen die volgende laerskole:
Laerskool Louis Leipoldt
Laerskool Bakenkop
Laerskool Swartkop

Laerskool Skuilkrans
Curro Hazeldean

Cornwall Hill College

Om die sprong tussen Bulletjie Rugby en 15-man rugby te vergemaklik, bied Monnies ‘n O/8 oorbruggingskursus vir graad 2 seuns aan, om die seuns gewoond te maak aan die aspekte van 15-man rugby soos lynstane, skrums en posisionele spel.

Bulletjie rugby bied O/6 (Gr R) tot O/8 (Gr 2) leerders die geleentheid om vaardighede te ontwikkel en deel te neem sonder enige kontak, deur die gebruik van “rips”. Die vereenvoudigde spel fokus op deelname en genot. Ouers is by die afrigting, wedstryde, organisasie en ondersteuning betrokke. Die afrigting word deur die ouers gedoen en volg beginsels wat in die Bulletjie Rugby handleiding uiteengesit word. Dit is ‘n georganiseerde en beheerde sport wat deur die Blou Bulle Rugby Unie bestuur word. Hulle stel die reëls in, bepaal die liga wedstryde en bied die Boksmart en afrigtings/skeidsregter kursusse aan.

Gelyke geleentheid vir alle spelers word beklemtoon en spanne word gekies om alle spelers gelyke geleentheid te gee om te ontwikkel en speel. Daar is geen A of B spanne nie, net kleure en ons probeer altyd om die spanne so uit te sit dat daar gelyke vaardighede in elke span is. O/6 spanne bestaan uit 6 spelers, O/7 uit 7 en O/8 uit 8.

Dit is meeste van die tyd moeilik om te onderskei of die ouers of kinders dit die meeste geniet. Ons is geseën by Monnies met betrokke ouers en waardeer elke dag die ouers se opoffering om saam met hulle kinders ‘n nuwe vaardigheid aan te leer. Ons wil ons kinders liefde vir rugby as ‘n sport leer, nie Springbokke maak op ‘n vroeë ouderdom nie.

Kernbeginsels: Hardloop, aangee, vang, ondersteun, druk ‘n drie en GENOT!