Monnies Gee Om

Hier by Monnies dien ons graag deur uit te reik na mense in nood. Ons reik uit na mense in ons eie skoolgemeenskap wat finansieel swaarkry, deur hulle op verskeie maniere te ondersteun.

Omdat ons as gemeenskap so geseënd is, is dit ook vir ons baie spesiaal om te kan uitreik na die behoeftiges in Pretoria-Wes. Dit doen ons deur ons betrokkenheid by Generaal Nicolaas Smit Laerskool. In hierdie skool is die nood só groot dat bykans 400 kinders elke pouse ‘n bord kos kry. Dit is die meeste van die tyd die enigste kos wat baie van hulle kry om te eet op ‘n dag.

Die liefdadigheidsprojekte word deur die Leiergroep van ons skool bestuur, omdat ons glo die eerste taak van ‘n leier is om te dien.

Ons jaarlikse hoogtepunte is ons uitreike na ‘n kinderhuis in Hermanstad, ‘n ouetehuis in Danville, ‘n plakkerskamp en dan natuurlik besoeke aan Genl. Nicolaas Smit en die onmiddelike gemeenskap.

Omdat die grootste behoefte in die omgewing kos is, is dit ons hooffokus om nie-bederfbare kos aan hulle te skenk. Dit is ook ‘n voorreg om in die winter komberse en warm klere te gaan aflewer en soms sommer net allerhande speletjies saam te speel. Vir watter kind is dit nie lekker om te speel nie? Om tyd op te offer is vir ons soms moeilik in ons besige lewens, totdat ons daar was en die vreugde en dankbaarheid van die kinders ervaar het vir die paar ure wat ons saam met hulle gespeel en gelag het.

Monnies gee om deur ‘n verskil te maak in die lewens van ander wat minder bevoorreg as ons is.