Krieket

Krieket by Laerskool Monumentpark vind plaas tussen die laaste gedeelte van die 2de kwartaal reg deur tot die 4de kwartaal. Die O/11 A en O/13 A Spanne doen hulle liga voorbereiding tydens hulle Julie vakansie toer na Camp Discovery waar hulle teen sterk kompeterende opponente wedstryde speel.

Laerskool Monumentpark beskik oor 2 turf krieketblaaie en 6 sintetiese nette waar die spelers hulle krieketvaardighede kan ontwikkel. Krieket kan vanaf die ouderdom van 6 jaar tot 8 jaar (Bev Krieket) gespeel word en van O/9 tot O/13 speel die seuns in die skoolliga.

Monumentpark skryf jaarliks 10 spanne in die liga in, om meer ontwikkeling vir die spelers te kan gee en om die liefde vir die sport te kan kweek. Laerskool Monumentpark speel in die A2 Liga van Northens Krieket Unie (Titans) teen laerskole soos Wonderboom, Rooihuiskraal, Louis Leipoldt, Villieria, Stephanus Roos, Magalieskruin en Skuilkrans. Die B-Spanne speel vriendskaplik teen hierdie skole en is nie wenaangedrewe nie, sodat almal die geleentheid kan kry om uit te blink wanneer hulle kolf of deel is van die boulaanval.

Ons Afrigters is van die bekwaamste in Pretoria en is daar om elke speler te bevorder met die talente waaroor hul beskik. By Laerskool Monumentpark is ons doelgerig in wat ons doen om elke seun die geleentheid te bied om ons krieketkultuur te beleef.

Monnies se Bev Krieket toon jaarliks groei. Daar is ʼn totaal van 6 spanne; 2 spanne in elke ouderdomsgroep, (O/6, O/7 en O/8). Die getal spelers bly kontant deur die seisoen met 10 – 13 spelers per span. Bev Krieket word gereël deur die Centurion Krieket Kollege. Laerskole soos: Doringkloof, Hennopspark, Louis Leipoldt, Rooihuiskraal, Wierdapark, Elarduspark, Midstream College en Bakenkop neem deel aan die liga.

Wedstryde word gewoonlik in die 3de kwartaal op Saterdae oggende gespeel. Aandwedstryde is altyd die hoogtepunt, waar die seuns onder spreiligte speel. Hierdie aandwedstryde word op Woensdagaande gehou in die 4de kwartaal. Daar word wel telling gehou tydens elke wedstryd, maar ons fokus op genot en ontwikkeling van elke speler. Oefeninge word deur die ouers behartig. Tydens die oefening fokus hulle op die basiese beginsels van kolf-, boul- en veldwerk.

Ons O/8-groep speel oorgangs-krieketliga, wat die seuns kans bied om meer blootstelling te kry vir die O/9 skoolliga. By hierdie liga speel die seuns volgens O/9 krieketvlak reëls, om sodoende die gevoel te kry van skoleligakrieket.